STILBAAI SPORT NUUS - Dié rustige dorp gaan binnekort gasheer vir die tweejaarlikse opblaaskragbootwêreldkampioenskap wees.
Die Union Internationale Motonautique P750 (UIM P750) World Championship, sal vanaf 21 tot 28 Maart plaasvind. Die vorige byeenkoms was in 2018 in Frankryk.
Die kompetisie is uiters straf met spanne van oor die wêreld wat van so ver as Brittanje, Frankryk, Ierland, Duitsland, Noorweë, Swede en Sri-Lanka kom om saam met plaaslike en Namibiese spanne in die pro-stock en gemodifiseerde klasse mee te ding. Ongeveer 65 spanne van twee persone elk word verwag. Die ondersteunings- en diensspanne kan nóg ongeveer 400 persone insluit.
Die sentrale punt van die aktiwiteite is Ellensrust-karavaanpark, Stilbaai-Oos, waar deelnemers sal tuisgaan. Die surf- en langafstandkompetisie wat oor drie dae strek, sal by Lappiesbaai-hoofstrand plaasvind, terwyl die baanren op plat water (flatwater circuit) oor twee dae by die hawe sal geskied. Daar is ook twee rusdae ingewerk wat voorlopig vir Dinsdag 24 Maart en Vrydag 27 Maart beplan word. Die program is egter onderhewig aan veranderings met die weer wat 'n groot rol in die aktiwiteite speel.
Die span van Stilbaai, Raynor Becker en Hugo Erasmus, wat in 2018 as die pro stock-wêreldkampioene aangewys is, sal probeer om dié titel suksesvol te verdedig.
Volgens Elza Thiart-Botes is Stilbaai gereed en voorbereid op dié belangrike byeenkoms. Dit vind in die skoolvakansie plaas en 'n groot toename in besoekers word verwag: "Dis 'n ekonomiese inspuiting vir die dorp en besighede, organisasies en plaaslike byeenkomste sal daarby baat."
Volgens Ryno Becker wat 'n groot rol gespeel het om dié byeenkoms na Stilbaai te bring, is hulle uiters dankbaar teenoor alle besighede wat as borge vir geleentheid optree. Becker benadruk ook dat dit nie moontlik sou wees sonder die ondersteuning van Hessequa-munisipaliteit nie.
Besoekers kan gerus uitkyk vir ander aktiwiteite wat gedurende dié tydperk in die dorp aangebied word. Dit sluit in die Stilbaai Craft Beer, Gin & Wine Expo op 26 en 27 Maart in die gemeenskapsaal, die Brugmark wat elke Saterdag in Stilbaai-Oos gehou word, die Jongensfontein-kunsmark op Saterdag 28 Maart en die Kasselshoop farm run op Saterdag 21 Maart.
Daar sal ook 'n kunsuitstalling in die gemeenskapsaal van 21 tot 25 Maart plaasvind, terwyl die duo Coffee Snobs Saterdagaand 28 Maart 'n buitelug-piekniekkonsert by die toerismeburo sal aanbied.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'