HESSEQUA NUUS - Klubrugby gaan wéér die sportspyskaart in Hessequa vandag (Saterdag 17 Mei) oorheers.
Maar so hier en daar gaan die gholfbane en rolbalperke ook fluks besoek word met mooi weer op hande - aldus die weerburo.
Wat klubrugby betref is die kragmeting tussen Heidelberg en Groot-Brakrivier, tans die gesamentlike kampioene in die SWD se Superliga, die gróte wat waarskynlik die meeste belangstelling gaande sal maak.
Rugbyliefhebeers kan gerus 'n draai in Heidelberg kom maak en vir hulself sien hoe dié twee bulspanne die gras gaan plattrap.
En in George sal die tweestryd tussen Evergreens en Barbarians ook vir liplekkerrugby sorg.
Die ander twee wedstryde in die Superliga is die tuisstryd tussen Riversdal Blues en Blanco en Seagulls wat weg speel teen Harlequins.
In die Eersteliga A het die twee Hessequa-spanne tuiswedstryde. Riversdal Dorp pak Silver Stars van George op die Steg terwyl Albertinia Rangers teen Maori's van Oudtshoorn te staan kom.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’