ALBERTINIA NUUS - Albertinia Rangers het Saterdag, 26 Februarie hul toeskouers op hul voete gehou met hul uitstekende spel op eie bodem teen die Titans van Mosselbaai.
Titans is met die kous oor die kop huis toe gestuur na hul 'n goeie pak slae gekry het en die wedstryd met 17-71 verloor.
Die eerste drie is binne vyf minute gedruk deur Rangers se regtervleuel, Enlin Smith. Hy is een van die spelers wat drie drieë binne die eerste helfte van die wedstryd gedruk het.
Die blitsige buitesenter, Jonathan Matiso het na Smith vier drieë gedruk. Rangers het met hierdie wedstryd gewys dat hulle hierdie seisoen moeilik geklop gaan word. Rangers se agterlyn was ontstuitbaar met die bal in hand en voorspelers Allan Samaai, Rejovaan Fortuin en Hendrik Jantjies het ook hulle stempel behoorlik afgedruk.
Wayne London, wat vir Rangers se A- en B-spanne op die plaasvervangerbank was, is kliphard besig om vir hom 'n plek in die A-span los te speel. Die besoekers moes alles gee om die grote plat te trek. Heelagter Angelo Uithaler ook op sy stukke met sy aanvallende rugby.
Rangers se A-span het altesaam 11 drieë aangeteken. Die B-span het ook hul kant gebring en met 45-0 gewen, terwyl die C-span naelskraap met 14-10 teen Brandwag gewen het. Rangers speel Saterdag teen die geharde Barbarians van Mossselbaai.
Die vorige week, op 19 Februarie het die Rangers die rugbyspan van Klein-Brakrivier, die Hungry Lions soos soetkoek geëet met hul oorwinning van 41-15.
Dit was weer eens 'n vriendskaplike wedstryd en was op eie bodem gespeel.
Die streeptruie is tans besig om hulle vere reg te skud vir die ligawedstryde wat binnekort sal plaasvind. Rangers, wat verlede week 'n groot nederlaag teen Groot-Brakrivier gely het, het nie toegelaat dat dit hulle geesdrif demp nie en het uitstekende hardlooprugby voor hul tuisondersteuners gespeel.
'n Hele paar aanskoulike drieë is gedruk en dit was wat die tuisskare wou sien.
Hungry Lions het geen kans gehad om die wedstryd te wen nie. Hulle kon eenvoudig net nie al die gate toestop nie.
Die plaaslike span het aan hul afrigters gewys dat elkeen van hulle graag deel sal wil wees van die A-span vir die 2022-rugbyseisoen en alles sal gee om dié trui oor die kop te trek.
Damain Buis duik oor vir sy drie in Saterdag se wedstryd. Foto's: Heinrich Fortuin
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'