Update
HEIDELBERG Die plaaslike rugbyklub se vlagskip moes Saterdag 29 Junie alles uithaal om die bordjies teen Barbarians te verhang na hul eerste ronde neerlaag teen dié gedugte span.
Baabaas, wat die eerste wedstryd van die seisoen met 20-13 op hul tuisveld gewen het, is in die doodsnikke van dié SWDRU Premierligawedstryd tot oorgawe gedwing en Heibi het dié tuiswedstryd naelskraap met 30-26 gewen. Hulle het ook ’n bonuspunt met hul vier drieë ingeoes.
Die wedstryd is deur nagenoeg 3 000 toeskouers, waaronder Cameron Dugmore, ANC opposisie-leier in die Wes-Kaapse wetgewer, asook Lisby Pieterse en James Gelderbloem, Hessequa-raadslede, bygewoon.
Voor die afskop van die hoofwedstryd het Dawid Hartnick, legende van die destydse Young Stars-rugbyklub sy klubbaadjie en das aan sy broerskind, en Heibi-kaptein Lindon Hartnick oorhandig.
Die wedstryd het deurgaans wipplank gery en het albei spanne se ondersteuners op hete kole gehad. Dit was duidelik dat Baabaas hul wendroogte wou breek en het hulself aan negatiewe spel skuldig gemaak wat tot drie geelkaarte bygedra het.
Die besoekers het ’n strafskop in die eerste minuut afgedwing, wat deur Henn-Lin Botha deur die pale gestuur is om die eerste punte aan te teken. Kort daarna het hulle hul eerste van twee drieë gaan druk toe Shadward Fillies in die vierde minuut oor die doellyn is. Botha het die nodige twee punte bygevoeg om met 10-0 voor te loop.
Die tuisspan het hulself reggeruk en met twee drieë in die 12de en 17de minute geslaag toe eers Martin Hartnick en toe Marcel Marais gaan druk het om die telling gelykop te maak. Corbin Swartbooi kon dit nie verdoel nie.
’n Skepskop deur Wahlon Anthony van Barbarians, en later deur Botha bring die rustydtelling op 16-10.
Heibi het vroeg in die tweede helfte ’n strafskop afgedwing wat deur Swartbooi verdoel is. Fernell Pretorius druk hul derde drie in die 52ste minuut, en Swartbooi jet die twee punte met sy skopskoen bygesit. Baabaas antwoord kort daarna met ’n drie deur Botha, wat hy verdoel om met 23-20 voor te loop. ’n Strafskop 10 minute later wat Swartbooi sierlik deur die pale stuur, bring die telling op 23 elk te staan, maar dit word deur Baabaas ook deur ’n strafskop opgevolg om hulle weer die voortou te laat neem.
Die volgende 15 minute het die spel van doellyn tot doellyn gewissel met Heibi wat alles in die stryd gewerp het om die wendrie aan te teken. Hul volgehoue druk het sy tol geëis toe Lindon Hartnick die wendrie in die 78ste minuut aanteken. Eslin Naudt slaag met die doelskop om Heibi se vierde plek op die punteleer te verseker.
Dawid Hartnick, legandariese vleuel van die destydse Young Stars-rugbyklub, oorhandig sy baadjie en das aan sy broerskind, Lindon Hartnick, Heibi-kaptein en agsteman.
Lees 'n vorige artikel hier: Vreugde vir Heibi na harde stryd
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'