Vyf spelers van die All Blacks is lewenslank uit alle rugby geskors. Dit spruit uit 'n voorval op 9 Augustus toe hulle teen Bridgton gespeel het. Die skeidsregter is tydens die wedstryd aangerand en die wedstryd is ongeveer twintig minute voor die einde stopgesit.
Die SWD-rugbyunie se president, Hennie Baartman het Maandagoggend, 15 September aan Suid-Kaap FORUM bevestig dat die vyf spelers lewenslank geskors is.
Die tugkomitee van die unie het Vrydag, 12 September 'n finale beslissing gemaak en dit so aan die klub deurgegee. Die Bridgton klub is ook vroeër verhoor, maar onskuldig bevind.
Volgens Baartman is ses spelers aanvanklik verhoor, Edmund Piedt is onskuldig bevind.
Die ander vyf, naamlik Marius Coetzee, Christiaan Herwil, Willem Jaftha, Bryan Jonkers en Denzil Ronganger, is skuldig bevind op aanklagte van aanranding en lewenslank uit alle rugby geskors.
Baartman noem verder dat die klub ook tot einde 2015 geskors is en mag eers in Januarie 2016 by enige rugby aktiwiteite betrokke raak. "Die klub is boonop 'n boete van R10 000 opgelê wat betaal moet word voor hulle weer mag deelneem as klub," aldus Baartman.
Volgens hom het All Blacks drie werksdae gehad om te appélleer. Sou hulle, sal 'n appèlkomitee van die SWD Rugbyunie dit aanhoor.
Die bestuurskomitee van die unie is heel tevrede met die bevinding en optrede teen die betrokke klub en spelers.
Dít, volgens Baartman stuur 'n duidelike boodskap dat boewery nie in SWD rugby geduld sal word nie.
Hennie Baartman, die SWD Rugbyunie se president
ARTIKEL: JACQUES SWART, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'