STILBAAI NUUS - George-rugbyklub se A-span het daarin geslaag om Seagulls op Outeniquapark met 45 - 31 te klop.
Seagulls se B-span het egter op al sy silinders gevuur en met 'n telling van 15 - 8 as oorwinnaars van die veld gestap.
In die C-span wedstryd was George te sterk en het met 14 - 5 geseëvier.
Die voorbereiding vir die wedstryde was nie ideaal nie, aangesien die manne weens die stormweer en skade aan die elektrisiteitsnetwerk slegs een aand kon oefen, boonop ná 'n afnaweek.
Ten spyte daarvan het die spanne goeie toewyding en veggees gewys.
Die A-span se wedstryd was 'n harde en fisieke kragmeting en Seagulls het goeie karakter getoon.
Die wedstryd was binne bereik, veral toe die telling 31 - 26 in George se guns was, maar sagte drieë en verspeelde kanse het hulle uiteindelik duur te staan gekom.
Oorywerigheid naby die doellyn het soms belowende aanvalle laat ontspoor, maar die afrigtingspan sien baie positiewe dinge waarop verder gebou kan word.
Seagulls ontvang Prins Albert Saterdag, 23 Mei, in Melkhoutfontein en sal verseker hul wenmomentum wil herwin.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’