HESSEQUA NUUS - Seagulls het Saterdag 17 Sep-tember net-net daarin geslaag om Knysna United met 18 - 17 te troef in sy laaste Superliga B-wegwedstryd vir die seisoen.
Hulle was teen rustyd met 8 - 3 voor.
Die wedstryd is vanaf die afskop kliphard voor- en agterlangs gespeel en geen genade is betoon of gevra is nie.
Die tuisspan het hard gespook om hul besoekers van Melkhoutfontein van 'n plek in die halfeindstryd te weerhou, maar Seagulls se veggees het hul deurgedra.
Met die vertoning het Seagulls hul lojale ondersteuners baie vertroue gegee om na uit te sien vir die opkomende halfeindstryd op Saterdag op 1 Oktober.
Vir Seagulls het die senterpaar, Jerome Esau en Nathan Buis, elk 'n drie gaan druk. Wilhelm Sollomans het met twee strafskoppe en 'n doelskop geslaag.
Seagulls se B-span het redelik maklik met 22 - 8 geseëvier nadat hulle rustyd met 12 - 3 voorgeloop het.
Vir Seagulls het Delano Jacobs (heelagter), Teswill Rhoda (linkervleuel) en Edmund Nomdo (haker) gaan druk. Jacobs kon net een drie verdoel.
Seagulls speel Saterdag 1 Oktober in hul halfeindstryd weg teen Albertinia Rangers.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'