STILBAAI NUUS - Happy Hearts-rugbyklub van Brandwag het Melkhoutfontein Saterdag, 14 Maart, besoek vir die eerste ligawedstryde van die 2026-seisoen.
Die toeskouers het verseker waarde vir hulle geld gekry met twee kipharde wedstryde en mooi hardlooprugby.
Die tweedespan het stadig begin en was teen rustyd nog met 11 - 14 agter. Dit het herinneringe laat opkom van die vriendskaplike wedstryd waarin hulle vroeër teen dieselfde span verloor het. Na rustyd het hulle egter goed teruggeveg en uiteindelik met 32 - 21 gewen.
Puntemakers vir die tweedespan was Jamie Anthony, Jason Lawrence, Ruben Daries en Angelo Saayman, elk met 'n drie. Chriswin-Lee Jansen het drie doelskoppe en twee strafdoele bygevoeg.
Die eerstespan het goed afgeskop en was met draaityd 21 - 15 voor. Die telling het later tot 31 - 15 gegroei voordat daar 'n insinking gekom het. Vir die res van die wedstryd moes hulle hard verdedig, maar hulle het die knoop deurgehaak met 'n wentelling van 31 - 27. Dodelike verdediging het hulle van 'n gewisse nederlaag gered, hoewel daar beslis nog aan die skrumwerk in die laaste deel van die wedstryd gewerk sal moet word.
Die eerstespan se punte het gekom van drieë deur Nathan Buis, Donavan Verwey, Jaydan Lakay en Bejovaan Fortuin, elk met 'n drie. Curnal Sollmans het vier doelskoppe en een strafskop bygevoeg.
Alles in ag genome was dit twee goeie wedstryde met meer positiewe as negatiewe punte, en Seagulls het die vermoë en spelers om van die 2026-seisoen 'n baie suksesvolle een te maak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’