STILBAAI NUUS - In hul tweede vriendskaplike wedstryd van die seisoen het Seagulls-rugbyklub Saterdag op Melkhoutfontein met twee spanne teen Buffaloes van Buffeljagsrivier gespeel.
Albei wedstryde het opwindende hardlooprugby opgelewer en was 'n goeie toets vir die spelers se fiksheid op hierdie vroeë stadium van die seisoen.
Die Seagulls-eerstespan het teen rustyd 'n stewige voorsprong van 12 - 0 opgebou. In die tweede helfte het goeie, gedissiplineerde verdediging die grondslag gelê vir 'n eindtelling van 17 - 5 in Seagulls se guns.
Die tweedespanne het ewe veel belofte getoon. Teen rustyd was daar nog geen telling nie, maar in die tweede helfte het Seagulls twee keer agter die doellyn gaan kuier. Buffaloes kon slegs met een drie antwoord, wat die eindtelling op 12 - 7 vir Seagulls te staan gebring het.
Seagulls kry Saterdag, 14 Februarie, die geleentheid om hul voorbereiding tuis voort te sit wanneer Happy Hearts hulle besoek vir nog 'n vriendskaplike wedstryd.
Ondersteuners word aangemoedig om die pawiljoene vol te maak - want hoe voller die pawiljoene, hoe beter speel Seagulls.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’