Gallery
STILBAAI NUUS - Seagulls is verseker van 'n plek in die halfeindstryd van die SWD se Super B-ligakompetisie na hul pragoorwinning oor Harlequins van Oudtshoorn.
Seagulls het Harlequins verlede Saterdag met die kous oor die kop huistoe gestuur ná hulle oorwinning van 35-15.
Die twee spanne het rustyd gedraai met die telling op 14-3 in die guns van Seagulls ná drie strafskoppe deur Curnal Sollmans en Willem Hendricks se drie.
Na rustyd het Gershom Trompie van Rooyen gaan druk en Sollmans se skopvoet was in die kol.
Jerome Kxng J Esau 11 het die telling opgeskuif na 26-3 en weereens het Curnal seker gemaak van die doelskop om dit 28-3 te maak.
Met sowat 10 minute se speeltyd oor het Joswin Esau die bonuspuntdrie aangeteken en Curnal het die kersie op die koek geplaas met sy doelskop om die eindtelling 35-15 te maak.
FOTOGALERY: Seagulls loop nou voor
Ten spyte van 'n sterk wind wat gepla het, was Curnall Sollmans (heelagter) dodelik akkuraat met sy skopwerk pale toe.
Die wedstryd is gespeel in ongure weer met 'n baie sterk wind, maar Seagulls het net eenvoudig die een aanval na die ander geloods en geteer op Harlequins se foute.
Die A-span se speler van die wedstryd was die vaskopstut, Anré Vermeulen, wat sy hart uitgespeel het.
Die B-span het hulle wedstryd met 18-9 gewen en het nooit gelyk asof hulle kan verloor nie. Hul speler van die wedstryd was die vuurvreterslot, Richard Baker.
Alhoewel die A-span alreeds gekwalifiseer het vir die halfeindstryd op 21 Oktober moet die spanne nog Saterdag 23 September vir Albertinia Rangers in hulle agterplaas gaan vasvat.
Hackuum Jansen, sterk binnesenter van Seagulls, breek deur die verdediging met sy spanmaat Hyron October agter hom om vir ondersteuning.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’