STILBAAI NUUS - Seagulls het Saterdag 15 Augustus op Brandwag teen die sterk Happy Hearts-span gespeel en met gemengde welslae van die wedstryde teruggekeer.
Happy Hearts se B-span het in die tweede helfte behoorlik die krane oopgedraai en Seagulls met 'n oortuigende nederlaag van 26 - 8 huis toe gestuur. Seagulls het teen rustyd nog met 5 - 3 agtergestaan, maar die tuisspan het ná die rustyd hul spel aansienlik opgeskerp.
Angelo Saayman, heelagter van Seagulls, het in die eerste helfte 'n strafskop deur die pale gestuur, terwyl die plaasvervanger Derrick Michaels in die tweede helfte Seagulls se enigste drie gedruk het.
Die A-span-wedstryd was egter 'n heel ander storie en het in 'n naelbytstryd geëindig. Seagulls het daarin geslaag om Happy Hearts met 32 - 31 te klop nadat hulle rustyd met 21 - 20 voorgeloop het.
Seagulls het in die proses vier drieë gedruk, wat aan die span 'n broodnodige bonuspunt besorg het. Donavin Verwey het twee drieë gedruk, terwyl Hyron Oktober en Christo Jantjies elk 'n drie aangeteken het.
Curnall Sollmans het 'n belangrike bydrae met die skopwerk gelewer en drie doelskoppe en twee strafskoppe deur die pale gestuur.
Met die eenpunt-oorwinning het Seagulls waardevolle punte op die punteleer ingepalm ná 'n wedstryd waarin albei spanne tot die einde toe om die oorwinning meegeding het.
Seagulls pak Saterdag vir Albertinia in Melkhoutfontein. Ná die spanningsvolle wedstryd teen Happy Hearts kan ondersteuners weer 'n riller van 'n wedstryd verwag.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’