Update
RIVERSDAL RUGBY NUUS - Rugbyspelers wat tussen 1970 en 2000 vir die Riversdal-rugbyklub gespeel het, het Saterdag 2 November 'n reünie gehou.
Altesaam 192 oudspelers en metgeselle het die reünie by Die Dam-restaurant buite die dorp bygewoon.
"Na die dood van oom Steven Hiten vroeër vanjaar het ek besluit om 'n reünie vir die rugbyspelers te reël, want hulle is besig om uit te sterf," sê Dihanna van Wyk, wat die geleentheid georganiseer het.
"Dit is die eerste groot reünie wat gehou word en ons is oorweldig deur die entoesiasme waarmee die oud-spelers op die uitnodiging reageer het. Van hulle het baie ver gery om dit by te woon."
Onder die eregaste was James van Tonder, die oudste oorlewende voorsitter en president van die klub, Max Baise, die gasspreker, wat op sy dag 'n internasionale skeidsregter was en Arthur Abrahamse, 'n bestuurslid van die huidige klub. Hy het as skoolseun 'n rugbybesering opgedoen en woon en werk in Huis Wallace Anderson.
"Die Riversdal Rugby-Voetbalklub het in 1894 tot stand gekom en is vanjaar 125 jaar oud," vertel Deon du Toit, voormalige voorsitter van dié klub wat sy tuiste op die Riversdal-sportterrein by die Steg het.
"Die Riversdalklub is saam met die Mosselbaai-, George en Oudtshoornklubs die enigste van die oorspronklike klubs wat steeds binne SWD-rugby bestaan," sê hy.
Hy is positief oor die toekoms van rugby in die landelike gebiede. "Die klubs word al beter bestuur namate oudspelers by die afrigting betrokke raak. Daar is groot vordering met betrekking tot die standaard van rugby wat gespeel word."
Rugbyklubs op die platteland kan egter nie met beroepspelers van groot, welvarende klubs kompeteer nie.
"Ons het net nie die geld nie, maar ons wil elke jong speler aanmoedig om betrokke te raak. Namate die klubs sterker word, sal belowende spelers geïdentifiseer word wat in die SWD-spanne opgeneem kan word. Wie weet - oor 'n paar jaar kan van hierdie manne in die Rugby-wêreldbekertoernooi deelneem."
Lees 'n vorige artikel: Riversdal-rugbyklub se oudspelers hou reünie
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'