MELKHOUTFONTEIN NUUS - Die hele Melkhoutfontein is op hete kole. En die dorp se spogrugbyspan, Seagulls, ook.
Dis amper soos 'n herhaling van die Wêreldbekertoernooi se halfeindstryd tussen die Bokke en Engeland verlede naweek toe Suid-Afrika se senuwees gedaan was.
"Maar dis 'n goeie ding dat die senuwees pla," sê Hendrik Saayman, agterlynafrigter van Seagulls.
"Dit hou die manne op hul tone en keer dat hulle oorgerus raak vir Saterdag se halfeindstryd in die SWD Super B-liga tussen die tuisspan en All Blacks van Oudtshoorn.
"In ons laaste kragmeting teen All Blacks het ons hulle letterlik met die kous oor die kop na die Volstruisdorp teruggestuur. Ons gaan egter nie op ons louere rus nie en berei voor vir dié kragmeting asof dit al 'n eindstryd is."
Saterdag is daar baie op die spel vir albei spanne.
Vir die wenspan wink bekerglorie en dalk 'n bevordering na die Super A-liga. Vir die verloorder is dit neusie verby en is die seisoen "koebaai Meraai."
Saayman sê wat sterk in Seagulls se guns tel is sy tuisveldvoordeel en die ongelooflike ondersteuning van sy ondersteuners.
"Soos telkens dié seisoen sal Melkhoutfonteiners weer in hul hordes opruk om die spelers in hul laaste oefening te motiveer en te ondersteun."
Hy reken 'n groot rede vir Seagulls se sukses op die veld vanjaar is te danke aan die feit dat die spelers vir mekaar en vir die gemeenskap speel.
"Ons vaardigheidsvlakke en fiksheid is waarskynlik die beste van al die spanne wat in die Super B-liga meeding en dit het ons finaal deurgetrek."
Looi Seagulls én die Bokke weer die All Blacks gaan ondersteuners in 'n rugbyhemel wees.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’