STILBAAI NUUS - Klubrugby in die SWD is weer in volle swang na 'n lang vergadering tussen belanghebbendes Woensdagaand 3 September in George.
Dit beteken dat Seagulls en Blues mekaar takel Saterdag 6 September in die Riverville-stadion in Riversdal.
Niks gryp die verbeelding so aan as die rugbyderby tussen hierdie twee spanne nie en Saterdag sal geen uitsondering wees nie.
Na Seagulls se naelskraapse oorwinning met 18-16 in Melkhoutfontein die 10de Mei vanjaar sal Blues met mening terugkom op hulle tuisveld en dit beloof 'n klipharde stryd te wees.
Blues ondersteuners sal in hulle massas opdaag en hopelik sal Seagulls se getroue ondersteuners die pad vat Riversdal toe om Seagulls deur te dra.
Die Springbokke en All Blacks speel alreeds 09:00 Saterdagoggend en dit sal dus nie 'n verskoning wees om nie op te ruk Riverville-stadion toe nie.
Sterkte aan albei klubs en mag rugby seëvier.
Na 'n vergadering met die rugbyklubs in die SWD is daar besluit dat die geskeduleerde wedstryde soos aangedui op die goedgekeurde spelbeurtlys sal plaasvind. Dit beteken die wedstryde van 30 Augustus wat nie afgekom het nie, nou op 13 September gespeel gaan word.
Die uitstel verlede naweek het 'n groot invloed op die verloop van die Top 8 Superliga, met die halfeindrondes wat nou na 20 September aanskuif. 'n Datum vir die eindstryd sal later bepaal word.
Die naweek se program lyk soos volg:
Barbarians vs. Evergreens
Crusaders vs. Heidelberg
Blanco vs. Progress
Bridgton vs. Groot-Brakrivier
Na die onlangse gevegte in Oudtshoorn moes die klubs opnuut veiligheidsplanne indien. Hopelik sal dit vrugte afwerp.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’