RIVERSDAL NUUS - Riversdal Blues gee steeds die pas aan in die SWD-rugbyunie se Super B-liga nadat hy gister in die Riverville-stadion vir Silver Stars van George met 25 - 22 geklop het.
Maar maklik was dit beslis nie. Beide spanne het gesukkel om aan die gang te kom en van vloeiende spel en sprankelende hardlooprugby is daar vir groot dele van die wedstryd maar min gesien.
'n Stewige windjie het die skopwerk, veral kantlyn toe, vir albei spanne bemoeilik.
Riversdal Blues het in die eerste helfte talle ongedwonge hanteerfoute begaan en talle belowende bewegings net daar laat skipbreuk lei. Dis veral sy agterlyn wat met bottervingers gespeel het.
Met rustyd was die Blues met 13 - 5 voor, maar dié telling het die tuisspan effens gevlei. Ter versagting moet mens noem dat die Blues die wedstryd sonder ses sy groot kanonne begin het, maar toe hulle kort ná rustyd van die plaasvervangbank af opgestuur is, het dit stukke beter gegaan.
Die tuisskare het dit met 'n luide gejuig begroet toe dié manne opgedraf het.
Die Blues het veral in die laaste kwartier verwoed aangeval en Silver Stars se verdediging goed beproef.
'n Drie in die doodsnikke deur die besoekers het die eindtelling op 25 - 22 te staan gebring nadat die tuisspan lank met 25 - 15 voorgeloop het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’