RIVERSDAL NUUS - Riversdal Blues het sy veldtog in die SWD Rugbyunie se Top 8-klubkompetisie nuwe impetus gegee met nóg 'n indrukwekkende vertoning toe hy Harlequins gister (Saterdag 17 Augustus) op sy tuisveld met 47-13 oorrompel het.
Die besoekers het in die eerste 20 minute vanuit alle hoeke van die veld met die bal aangeval en die Blues se verdediging tot die uiterste beproef. Harlequins se agterspelers het behoorlik gebaljaar en dit het gelyk of die tuisspan nie raad het met hul aanvallende benadering nie.
Maar, die Blues was soos goeie slanggif en het 'n rukkie geneem voordat hulle kon toeslaan. En toe was dit basies eenrigtingverkeer en kon die besoekers nie die blou golf stuit.
Die Blues se agttal het voorlangs oorheers en Harlequins in die vaste skrums behoorlik gekarnuffel. Dit was aansteeklik en die agterspelers het, veral in die tweede helfte, sterk aanvalle op die besoekers se doellyn geloods.
Die taktiese skopwerk van Reagan Riddles (losskakel) en Wilbur January (heelagter) het Harlequins gereeld op die agtervoet gehou. January se skopwerk pale toe was ook dodelik akkuraat en albei spelers het op die aanval beïndruk.
Dis nog 'n bonuspuntoorwinning vir die Blues nadat hy die doellyn in die tweede helfte gereeld oorgesteek het. Op dié trant sal hy moeilik gestop word om die uitspeelrondtes te haal.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’