HESSEQUA RUGBY NUUS - Albertinia Rangers se A-span het na die uitspeelrondes van die SWD-Presidentsliga deurgedring toe hulle Saterdag 31 Augustus gelykop met Seagulls op Melkhoutfontein gespeel het.
Die tuisspan het elkeen van die laaste paar wedstryde van die seisoen met hart en siel aangepak.
Hulle het naelskraap teen Rangers op Albertinia verloor en byna die Blues op Riversdal geklop. Ongelukkig kon hulle nie Saterdag die knoop teen Rangers deurhaak nie.
Albertinia het die Seagulls lelik onderskat en moes alles in die stryd werp om te keer dat die jongspan hulle wen. Seagulls se balverspreiding en verdediging was van hoë gehalte en alles het in die eerste helfte vir hulle volgens plan verloop. Die rustydtelling was 15-8.
In die tweede helfte het Rangers se Lenesteoy Tarentaal in die 32ste minuut 'n drie gedruk.
Keanon Tarentaal het sake gelykop gemaak met 'n doelskop.
Hoewel Seagulls se B-span na 'n rustydtelling van 20-0 in Rangers se guns met 15-25 verloor het, het hulle nogtans tot die kwarteindronde deurgedring en die seisoen op 'n hoë noot afgesluit.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'