RIVERSDAL NUUS - As Riversdallers dalk Saterdagmiddag laat gedink het iemand het die Lotto gewen, was hulle reg.
Riversdal Blues-rugbyondersteuners het almal só gevoel ná hul gunstelingspan in die Riverville-stadion verras het deur Mosselbaai se Barbarians met 11 - 6 te klop.
Bitter min ondersteuners het dit verwag en in van die spelers se agterkoppe was daar seker 'n mate van twyfel of hulle die sesde geplaasde span in die Super A-liga sou klop. Die Blues kon die afgelope 20 jaar of so nog nooit met Barbarians afreken nie.
Daar was pandemonium op en van die veld af en dié oorwinning is tot laataand en selfs Sondag lank gevier. Só 'n lekker Lotto-oomblik kan mens nie verby laat gaan nie. In Borcherdstraat in die woonbuurt Progress het dit glo jolig gegaan. Hoekom nie?
Drie sterk argumente kan vir Blues se oorwinning aangevoer word. Gegewe hul vertoningslys teen Blues en die Riversdallers se gesukkel in die topliga vanjaar, kan mens verstaan dat Barbarians met hope selfvertroue hier opgedaag en verwag het om met 'n bonuspuntoorwinning weg te gaan. Selfvertroue is goed, maar dit moet darem nie die grense van oordrewe verwaandheid gaan toets nie. Nie op dié vlak nie.
Maar dalkies was die besoekers net te oorgerus en ontspanne.
Blues se verdediging was waarskynlik die uitstaande kenmerk van hul spel op die dag. Dit was iets ysliks. In die eerste helfte het Barbarians die pas aangegee en veral in die vaste fasette oorheers. Maar Blues se verdediging het gehou.
Linen Witbooi (met bal) soek na 'n gaping in Barbarians se verdediging.
In die tweede helfte het Blues met groter harte begin speel toe hulle besef hier kom dalk 'n ding.
En toe hul plaasvervangers losgelaat is, het die wind in Blues se guns gedraai en het hulle die skroewe begin vaster draai. Die besoekers het toe desperaat geraak en al losser begin speel, maar Blues het stewig walgegooi.
Daai voorlaaste skrum hier teen die einde, toe hulle Barbarians van hul voete af geskrum het, het die skare laat brul van pure plesier.
'n Ander baie belangrike faktor was die neutrale skeidsregter wat die reëls uitstekend geïnterpreteer en die wedstryd uitstekend beheer het. Sy gelyke is nog nie vanjaar hier in Riversdal gesien nie.
Nou wag die gróót uitdaging om die kampioen, Crusaders, Saterdag met 'n soortgelyke vertoning met die kous oor die kop terug te stuur na George. Dit kan gedoen word, maar dan sal die tuisspan op alle silinders moet vuur. En vuur moet spoeg.
Nicolaas Stephanus van die Blues val aan met die bal. Foto's: Heinrich Fortuin
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'