RIVERSDAL NUUS - In 'n spannende wedstryd wat tot aan die einde wipplank gery het, het die o.19A-rugbyspan van die Hoër Landbouskool Oakdale die besoekende Hoër Jongenskool Paarl die afgelope Saterdagmiddag met 28-26 geklop.
Oakdale moes sy tweepunt-voorsprong in die laaste tien minute desperaat verdedig met die Paarliete wat verwoed aangeval het. Boonop is sy heelagter, Reinhardt Viljoen met 'n rooikaart afgestuur. Maar die Bulle se verdediging was rotsvas.
Die besoekers het 'n strafskop kort voor die einde gekry, maar kon dit nie in die wenpunte omskep nie.
Hoër Jongenskool Paarl het met rustyd met 19-18 voorgeloop wat mens 'n idee gee van hoe gelykop die stryd deurgaans verloop het.
Vir die Bulle het Jannes Snyman (flank) en Reinhart Viljoen (heelagter) elk 'n drie gedruk terwyl Liam Lightly (flank) die doellyn twee keer oorgesteek het.
Oakdale se losskakel, CT Vosloo was suksesvol met een doelskop en twee strafskoppe.
Oakdale kon slegs sewe van die 21 kragmetings wen.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’