RIVERSDAL NUUS - Fynproewers lek hul lippe af vir die derby tussen Riversdal Blues en Seagulls vanmiddag 10 Mei in Melkhoutfontein.
Dis die enigste tuiswedstryd wat Superliga-klubrugby se stoompot aan die kook gaan hou met Heidelberg wat Evergreens in George gaan aandurf.
Elke optimis wat sy sout werd is, sal sê die Riversdal Blues het 'n gulde kans om te bewys hulle kan veel beter rugby speel as verlede week se gestotter teen Barbarians. Tot dusver dié seisoen sukkel die Blues om aan die gang te kom en hulle sal aan hul ondersteuners wil bewys dat hulle tot veel beter in staat is.
In Hessequa, waar rugby koning kraai, is daar bittermin sportgeleenthede soos dié rugbyderby tussen Seagulls en Riversdal Blues wat ondersteuners se emosies hemelhoog opjaag. Wees verseker: aan spanning en skouspel sal daar geen gebrek wees nie.
Seagulls, op hul tuisveld, bly maar 'n taai neut om te kraak.
Dit sal interessant wees om te sien hoe die Blues voorlangs gaan vaar. Teen Babaas het die Blues se agttal gesukkel, veral in die vaste skrums waar hulle heeltyd op die agtervoet was. Bygesê, die Mosselbaaiers beskik oor 'n gedugte pak voorspelers en sal enige van die topsspanne in die Superliga laat klippe kou.
Gee egter krediet vir die Blues se spoedvrate agterlangs, want hulle het die Babaas soms met teenaanvalle onder groot druk geplaas.
Seagulls beskik eweneens oor 'n paar hardebaarde in sy agttal en 'n paar snellers agterlangs.
Dis twee spanne wat goed opweeg en toeskouers sal vir seker waarde vir hul geld kry.
In nog 'n derby pak die Albertinia Rangers vir Riversdal Dorp tuis in 'n Eersteliga A-kragmeting.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’