MELKHOUTFONTEIN NUUS - "Klubrugby trek die gemeenskap saam en na twee jaar daarsonder is dit duidelik dat die spelers en die ondersteuners honger is vir rugby."
Dit was die woorde van die voorsitter van Seagulls-rugbyklub op Melkhoutfontein het Saterdag, 5 Februarie tydens hulle vriendskaplike wedstryde teen Heidelberg hulle borge vir die 2022-seisoen bedank.
Riddles het dit benadruk dat borge 'n baie belangrike rol speel in die gemeenskap.
"Dit gaan nie net oor die uitrusting wat hulle borg nie, maar hulle skep ook die geleentheid vir die jongmanne van Stilbaai en Melkhoutfontein om hulle talente op die rugbyveld uit te leef," het hy gesê Saterdag was die sportgronde met toeskouers gepak en hulle het die onderskeie spanne luidkeels toegejuig.
Seagulls het Saterdag, 12 Februarie weer 'n vriendskaplike wedstryd teen Riversdal Blues op Melkhoutfontein se veld gespeel. Daar is ook 'n moontlikheid van 'n wedstryd teen Progress van George op 26 Februarie.
Die SWD-liga begin op 19 Maart en hierdie vriendskaplike wedstryde is uiters belangrik om die manne wedstrydfiks te kry.
Volgens Duane Deutchen, eerstespan-afrigter het hulle op 3 Januarie begin oefen en daar was nog nie by een oefening minder as 30 spelers nie.
Hulle oefen Maandae, Dinsdae en Donderdae en dit is duidelik dat Seagulls vasberade is om hulle merk hierdie seisoen te maak, maar die ondersteuners moet in groot getalle opruk om dié taak makliker te maak.
Foto's: Johan Victor
'Ons bring jou die nuutste Melkhoutfontein, Hessequa nuus'