HEIDELBERG NUUS - Heidelberg-rugbyklub, wat verlede jaar tevrede moes wees met die naaswennerstrofee in die SWD-rugbyunie se Super A-liga, beoog om aan die einde van die 2024-seisoen as kampioen gekroon te word.
As hul voorseisoense beplanning enigsins 'n aanduiding is van hul erns om die liga te wen, is Heibi goed op die koers om dié doel te bereik.
Só het die klub die dienste van Peter de Villiers, gewese Springbok-rugbyafrigter, bekom om verlede Saterdag 'n afrigtingskliniek by Kairos Senior Sekondêre Skool in Heidelberg aan te bied.
Johan Erasmus, Heibi se hoofafrigter, sê die aanvanklike plan was om al die klubs, in veral Hessequa, by die kliniek te betrek om die kwaliteit van spel by al die klubs te verbeter, maar geeneen van die ander klub se verteenwoordigers het die verrigtinge bygewoon nie.
Erasmus het wel genoem dat die kursus baie leersaam was en dat hulle as klub graag weer van De Villiers se ervaring en dienste gebruik gaan maak.
Heibi skop môre (Saterdag 16 Maart) die nuwe seisoen af met 'n tuiswedstryde teen George met die eerste wedstryde wat om 13:00 begin.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’