STILBAAI NUUS - Die eerste stel vriendskaplike wedstryde het Saterdag, 31 Januarie, afgeskop en in Melkhoutfontein het Seagulls kragte gemeet met Heidelberg-rugbyklub.
Alhoewel dit nog vroeg in die seisoen is, het al drie wedstryde aanskoulike rugby opgelewer, met spelers van beide klubs wat die bal lustig rondgegooi het.
Te oordeel aan die groot getal toeskouers wat opgedaag het, is dit nie net die spelers wat uitgehonger is vir rugby nie, maar ook die jojale ondersteuners.
In die eerste wedstryd van die dag was Seagulls se derdespan met rustyd 5 - 0 voor en het hulle uiteindelik die wedstryd met 15 - 5 gewen.
Die tweedespanne se telling was met rustyd gelyk op sewe elk, maar in die tweede helfte het Heidelberg nuwe lewe gekry en die eindtelling was 26 - 7 in die besoekers se guns.
Die twee eerstespanne het van die begin af goed ingeklim en die toeskouers waarde vir hulle geld gegee.
Met die omdraaislag was Heidelberg 28 - 17 voor en hulle het in die tweede helfte nog twee drieë bygevoeg, teenoor een van Seagulls, om die eindtelling op 40 - 22 in Heidelberg se guns te beklink.
Seagulls speel Saterdag, 7 Februarie, in Melkhoutfontein hul tweede vriendskaplike wedstryd teen Buffaloes-rugbyklub van Buffeljagsrivier.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’