Update
HEIDELBERG NUUS - In hul eerste tweede ronde tuiswedstryd van die SWDR-premierliga het Heidelberg-rugbyklub Saterdag 2 Junie behoorlik wraak vir hul naelskraapse eerste ronde neerlaag geneem toe hulle 'n wegholoorwinning van 83-8 oor Maori's behaal het.
Heibi, wat net die vorige aand hul nuwe truie van hul borge ontvang het, het rustyd met 33-8 voorgeloop.
Die besoekers het in die eerste paar minute die verwoede aanvalle van die tuisspan ietwat afgeweer, maar dit was duidelik dat hulle verdediging nie die damwal sou kon keer nie. Heidelberg het na 20 minute reeds met 26-0 voorgeloop en hul bonuspunt met vier drieë verseker. Maori's het daarin geslaag om binne vier minute hul enigste punte met 'n drie deur Ricardo Stuurman en 'n skepskop deur Cedrick Ryneveldt op die telbord te sit. Die tuisspan het hul vyfde van 13 drieë in die 35ste minuut aangeteken. Die tuisspan is deur hul fanatiese ondersteuners en blaasorkes tydens al drie wedstryde uit volle bors luid toegejuig.
In die tweede helfte het Heibi die krane behoorlik oopgedraai en aanval na aanval op Maori's se doellyn geloods.
Die besoekers moet krediet kry omdat hulle nie moed opgegee het nie en manhaftig tot die einde probeer het. Hulle kon egter nie Heibi se aanslag afweer nie. Die tuisspan het soos tiere verdedig die paar keer wat hul opponente die bal probeer lug gee het.
Heibi het weereens aan hul opponente in die Premierliga bewys dat hulle 'n faktor is waarmee rekening gehou moet word. Hulle sal egter hul voete plat op die aarde moet hou en nie toelaat dat hul sukses hulle van stryk af bring nie.
Puntemakers - 1ste span
Heidelberg: Drieë - Jason Liebenberg (losskakel, x3), Marquit September (senter, x3), Corbin Swartbooi (heelagter, x2), Simon du Toit (slot), Lindon Hartnick (nr. 8), Anrich Manho (senter) en Martin Hartnick (plaasvervangerslot).
Doelskoppe - Swartbooi (9).
Puntemakers - 2de span
Drieë - Carlo Williams (regtervleuel, x3), Duane du Plessis (flank, x2), Yoaan Hoiban (senter), Denovan Riddles (senter) en Laughton Peterzen (haker).
Doelskoppe - Williams (3).
Heidelberg se tweedespan wen met 48-17 nadat hulle rustyd met 19-5 gedraai het.
Puntemakers - 3de span
Drieë - Maurice Paige (plaasvervanger linkervleuel, x2), Martinique Riddles (senter), Herschelle Pieters (slot) en Leigh-Roskey Domingo (plaasvervangerstut). Doelskop - Veandré Carelse (losskakel).
Heidelberg se derdespan wen met 27-5 nadat hulle 10-5 rustyd voor was.
Heidelberg speel Saterdag weg teen Silver Stars.
Lees 'n vorige berig: Heibi mors met Maori's
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'