HEIDELBERG NUUS - Ten spyte van die onsekerheid wat Heidelberg-rugbyklub die afgelope paar weke moes verduur as gevolg van 'n vertraging ten opsigte van 'n tugverhoor, het hulle Saterdag 12 Augustus in 'n wegwedstryd seker hul beste vertoning vir die seisoen gelewer.
Heibi verloor in die doodsnikke met 36-30 teen Evergreens van Pacaltsdorp. Die rustydtelling in die SWDRU Premierligawedstryd was 20-12 in Heibi se guns. Die tuisspan moes met 'n bonuspunt wen om aan hulle die laaste plek in die halfeindronde te verseker. Die wedstryd het teen 'n hoë tempo afgeskop en was dit uit die staanspoor duidelik dat albei spanne net hul beste vir hul ondersteuners wou gee.
Die besoekers was ongetwyfeld die beter span op die dag, maar soos in vorige wedstryde het hulle nie ten volle gebruik gemaak van hul geleenthede nie.
Nagenoeg 3 000 toeskouers, waaronder ondersteuners van Progress en Barbarians, wat onderskeidelik eerste en tweede plekke op die ligatabel beklee, het dié opwindende wedstryd bygewoon.
Heibi het eerste punte aangeteken toe Lyndon Hartnick (agsteman), in die negende minuut oorgegaan het vir die eerste van sy span se vier drieë. Altesaam 10 drieë is in die aanskoulike wedstryd gedruk. Daarna het Francois Pieters (regtervleuel), die eerste van sy twee drieë gaan druk. Corbin Swartbooi (heelagter), kon egter nie een van die drieë verdoel nie.
Die tuisspan het hul eerste punte in die 18de minuut met 'n onverdoelde drie deur Marchall Boesak (senter), aangeteken.
Heibi het weer in die 21ste minuut met hul derde drie toegeslaan toe Marquit September (senter), na 'n mooi beweging onder die pale gaan druk. Jason Liebenberg (losskakel), het met die doelskop geslaag.
Evergreens het nie laat slap lê nie en het Anvor Prins (stut), hul tweede drie in die 24 ste minuut gaan druk. Cthan Moos (losskakel), het dit verdoel. Liebenberg het voor rustyd met 'n strafskop geslaag om die telling 20-12 te maak.
Die besoekers het weer eerste punte in die tweede helfte aangeteken toe Pieters vir sy tweede drie oorgegaan het. September het die nodige twee punte bygevoeg. Heibi het egter deur oorgretigheid onnodige foute begaan deur op kritieke tye ongedwonge foute te maak, wat hulle aan die einde duur te staan gekom het.
Devandré Strydom die haastige regtervleuel van Evergreens het twee drieë binne agt minute van mekaar gaan druk. Chadley Stride (heelagter), het met 'n doelskop geslaag om die telling op 27-22 na 60 minute te bring. Prins het kort daarna vir sy tweede drie oorgegaan om die telling 29-27 in hul guns te maak.
Dié drie het vir pandemonium gesorg toe die tuisskare die veiligheidslint breek en die spel vir nagenoeg sewe minute vertraag het.
Heibi het na twee minute weer die voortou geneem toe Liebenberg met 'n strafskop slaag na volgehoue druk op die tuisspan, om met 30-27 voor te loop.
Die laaste minute was senutergend vir beide spanne se ondersteuners, maar het Heibi die tuisspan toegelaat om die spel te dikteer deur weereens verkeerde keuses te maak. Boesak het byna ongehinderd die wendrie in die 78ste minuut aangeteken, wat deur Shaun Booysen (linkervleuel), verdoel is en wat hulle plek in die halfeindronde teen Progress verseker. In die eerste wedstryd van die dag het Evergreens se derde span met 23-15 gewen nadat hulle rustyd met 8-5 voorgeloop het.
Heidelberg se tweede span kon ook nie hul wedstryd wen nie en het naelskraap met 25-21 verloor, nadat hulle rustyd met 17-10 agter was.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'