HEIDELBERG NUUS - Na 'n afwesigheid van vier jaar is die nasionale klub-kampioen-skappe vir nie-universiteitspanne terug en die eerste wedstryde vind Saterdag 9 September plaas.
Daar is 32 spanne wat opgemaak word uit twee spanne vir elk van die veertien Unies en dan vier onbekende (wild card) spanne. Hulle is dan opgedeel in 'n noord- en suid-afdeling.
Die twee spanne uit die SWD is Crusaders en Hessequa se trots, Heidelberg.
Die uitklopformaat sal oor vyf naweke gespeel word en die spanne in die suidelike afdeling sal teenmekaar meeding en so ook die spanne in die noordelike afdeling.
Van die kwarteindstryde af sal die beste uit die suide teen die beste in die noorde meeding. Die eindstryd is geskeduleer vir 7 Oktober.
Volgens Rian Oberholzer, hoof- uitvoerende beampte van SA Rugby, is hierdie 'n belangrike toernooi op hulle rugbykalender en hulle is baie dankbaar dat African Rainbow Capital ingetree het as hoofborg om die toernooi moontlik te maak.
Met die ondersteuning van African Rainbow Capital sal hierdie toernooi aan klubspelers en afrigters 'n kompeterende platform bied en hulle ook motiveer om hulle doelwitte te bereik.
Die toernooi sal dan ook aan die nagenoeg 1 200 klubs in Suid-Afrika die boodskap uitstuur dat daar nog steeds 'n belangrike plek vir amateurs is na die koms van professionele rugby en hulle motiveer om hulle rugby op so 'n vlak te kry waar hulle dan ook aan die toernooi sal kan deelneem.
Heibi skop die toernooi Saterdag 9 September af teen die 2017-kampioene, Valsbaai van Kaapstad op Valsbaai se velde.
Hein Vollenhoven, voorsitter van Heidelberg-rugbyklub sê dat die klubtoernooi vir hulle 'n belewenis is. Dit is die eerste keer dat Heibi in hierdie toernooi speel, maar hulle sien uit daarna en hulle gaan hul alles gee.
Hy sê verder dat dit harde werk gekos het om te kom waar hulle is, maar dat dit alles die moeite werd is. Hulle is goed voorberei en het gedurende die week harde oefensessies ingesit.
Hulle het gelukkig geen beserings nie en kan die sterkste moontlike span in die veld stoot.
Wat Saterdag betref gaan hulle alles moontlik in die stryd werp en die wedstryd vat soos hy kom.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’