Gallery Update
HEIDELBERG RUGBY NUUS - Die A-span van dié dorp se rugbyklub het Saterdag 24 Augustus hul plek in die SWD Premierliga halfeindronde met 'n weghol-sege van 59-12 oor die Jaguars van Plettenbergbaai verseker.
Dit kom na hulle rustyd met 'n skrale 14-6 voorgeloop het. Heibi het dié keer hul afrigtingskorps en fanatiese ondersteuners taamlik laat kopkrap met seker een van hul powerste vertonings in die eerste 25 minute.
Die nuwelinge in die liga het binne die eerste 12 minute met 6-0 na twee strafskoppe deur Byron Willemse voorgeloop.
Die besoekers het kort daarna die tuisskare na hul asem laat snak toe hulle 'n drie aangeteken het, maar ongelukkig vir die Jaguars is daar uitgetrap en die tuisskare kon weer asem skep. Heibi het egter stadigaan in rat gekom en is in die 26ste minuut na volgehoue druk met hul dryfmaalbeweging met 'n strafdrie beloon. Hulle het hul voorsprong binne twee minute vergroot toe BG Uys gaan druk het.
Corbin Swartbooi het die nodige twee punte bygevoeg om met rustyd 14-6 voor te loop.
Dit was met die afskop van die tweede helfte duidelik dat Johan Erasmus, Heibi se afrigter, sy spelers hard aangespreek het en Shirgené Swartbooi het die eerste van twee drieë gedruk. Sy broer Corbin het die drie verdoel om met 21-6 voor te loop. Daarna het Francois Pieterse ook die eerste van sy twee drieë gedruk. Willemse het kort daarna weer met twee strafskoppe geslaag om die telling op 26-12 te bring.
Shirgené het in die 61ste minuut sy tweede drie gaan druk. Corbin wat die doelskop bygevoeg het, het na drie minute ook 'n drie gedruk en verdoel.
Die tuisspan het nog drie drieë deur Marcelino Meyer, Pieterse met sy tweede drie asook sy jonger broer Eslin Naudt aangeteken. Corbin kon net twee van die drieë verdoel om die telling op 59-14 te staan te bring.
Heidelberg se tweede span het hul wedstryd maklik met 60-10 gewen na hulle rustyd met 24-5 voorgeloop het. Hulle het 10 drieë ingeryg waarvan Johannes Kleynhans, Carlo Williams en Marcelino Manho elk twee keer gaan druk het. Petrus Japhta, Reginald Salmon, Alcano Vollenhoven en Rudolph Rossouw het elk ook een drie gedruk. Williams het vyf van die drieë verdoel. Vir die Jaguars het Merno Miggels en Neville Louw elk 'n drie gedruk.
Die C-span het met 36-22 gewen na hulle rustyd met 24-10 voor was. Heibi se puntemakers was Dimitri Stevens met twee drieë terwyl Craig Geldenhuys, Darren du Toit, Michael Jacobs en Cedrick Pieters elk een keer gaan druk het. Stevens het met een doelskop geslaag terwyl Martinique Riddles twee doelskoppe bygevoeg het. Vir die Jaguars het Keenan Cloete, Jesse Smit en Ashwille Mabie elk een drie gedruk. Viron Krigga het met een doel- en twee strafskoppe geslaag.
Lees 'n vorige artikel hier: Heibi volspoed na halfeind
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'