RUGBY NUUS - Heidelberg-rugbyklub het hul kanse om verlede Saterdag die uitspeelronde te haal weereens verstewig met 'n hard verdiende sege van 34 - 28 oor Blanco in George.
Heibi was teen rustyd voor met 15 - 11 in hul SWD Superliga A-wegwedstryd.
Ten spyte van die nat veld wou albei spanne die toeskouers met hardlooprugby trakteer. Heibi, wat nie op volle sterkte was vir die wedstryd nie, het nie so goed gevaar in die eerste helfte nie, maar na die rustyd het hulle voor- en agterlangs met meer erns ingeklim om spel probeer domineer.
Die tuisspan het self nie laat slap lê nie en die besoekers moes soos trojane verdedig om die sege te verseker.
Die wedstryd was voor- en agterlangs moeilik en geen genade is betoon of gevra nie. Goeie aanvallende spel en rotsvaste verdediging deur beide spanne het verseker dat die wedstryd deurgaans wipplank gery het en tot in die doodsnikke in die weegskaal was.
Vir Heibi het Marcelino Manho (stut), wat twee keer gaan druk, terwyl Lorenzo Gordon (linkervleuel) en Berthal September (heelagter) elk een keer gaan druk het. Corbin Swartbooi (regtervleuel) het drie van die vier drieë verdoel en ook met een strafskop geslaag.
Heibi se derdes het met 12 - 3 die knie gebuig. Veandré Carelse (skrumskakel) het met 'n strafskop geslaag.
Blanco se tweedes het Heibi naelskraap met 10 - 9 geklop nadat hulle rustyd met 5 - 3 voorgeloop het. Germaine Hoogbaard (skrumskakel) het al sy span se punte met drie strafskoppe aangeteken.
Heibi speel Saterdag tuis teen Groot-Brakrivier.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'