HEIDELBERG NUUS - Heidelberg is Saterdag 8 Julie in hul SWDRU Superliga A-tuiswedstryd lelik ontnugter toe Groot-Brakrivier hulle vir die tweede agtereenvolgende seisoen op hul tuisveld, alombekend as 'Never Lose Park,' geklop het.
Dié keer was dit 'n nederlaag van 15 - 9 nadat die rustydtelling drie elk was.
Wat dié nederlaag nog so bitter laat smaak, is die feit dat beide die eerste en tweede spanne die onderspit gedelf het, terwyl die derde span net met drie elk gelykop kon speel.
Wat egter 'n lig in die tonnel is, is dat Heibi nog steeds die tweede plek op die punteleer beklee.
Maar Heibi sal nie op hul louere kan rus nie aangesien die verdedigende kampioen, Crusaders, asook Groot-Brak en Bridgton in hul nekke blaas om 'n plek in die halfeindstryd te verseker.
Vanaf die afskop het beide spanne gewys dat hulle alles in die stryd sal werp om as oorwinnaars van die veld te stap en is daar hard voor- en agterlangs ingeklim.
Ondanks die ongure en ysige weer het die wedstryd wel by tye goeie hardlooprugby opgedis, wat deur hardnekkige verdediging gekenmerk is.
Shane Buis maak gereed om 'n verdediger van Groot-Brak af te stamp.
Junico Pieters (met bal) probeer 'n duikslag ontwyk.
Heibi se punte is deur Corbin Swartbooi, regtervleuel, met drie strafskoppe aangeteken. Vir die Brakkies het Duke Jantjies (haker) en Michael Cloete (flank), elkeen 'n drie gedruk, met Sachin Toring (skrumskakel) en Roshwin Abrahams, wat onderskeidelik met 'n straf- en doelskop geslaag het.
In die eerste wedstryd van die dag het Heibi se derde span met drie elk gelykop gespeel nadat hulle rustyd met 3 - 0 voor was. Vir Groot-Brak het Ruduwaan Botha (losskakel), met 'n strafskop geslaag terwyl Veandré Carelse Heibi se punte ook met 'n strafskop aangeteken het.
Die tweede wedstryd van die dag het die besoekers met 20 - 6 koning gekraai nadat hulle rustyd met 13 - 6 voorgeloop het. Vir Groot-Brak het Ruben Loxton (linkervleuel), een drie gedruk, terwyl hulle ook 'n strafdrie toegeken is.
Macneil Matthews (agtsteman), het twee strafskoppe asook een doelskop bygevoeg.
Die tuisspan se punte is deur Carlo Williams (heelagter), met twee strafskoppe aangeteken. Heibi speel Saterdag weg teen Maoris van George en sal hul fanatiese ondersteuners wil vergoed met 'n oortuigende vertoning.
Heibi se Zandré Jonker probeer met die bal deur die verdediging storm.
Carlo Williams klop sy teenstander van Groot-Brak met vaart.
Jaco Michaels word in sy spore gestuit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’