Video
MELKHOUTFONTEIN NUUS - Heidelberg het Saterdag sy vriendskaplike wedstryd teen Seagulls naelskraap met 17 - 13 gewen.
Die wedstryd was van die begin af kliphard en dit was duidelik, al die spelers was uitgehonger vir rugby.
Vir die wenspan het Marcelino Manho (kaptein), Lindon Hartnick en Marcelino Meyer beïndruk met hul balvaardighede. Manho het ook 'n drie gaan druk vir Heibi.
Heibi se afrigter, Johan Erasmus, het baie van sy jonger manne speelkans gegee aangesien baie van sy ou spelers nie beskikbaar was nie.
Maar Melkies se jongklomp het gewys waartoe hulle in staat is en sterk teenstand gebied teen Heidelberg. Hou maar vir Seagulls vanjaar mooi dop in die Super B-afdeling.
Daar moet nog hard gewerk word aan albei spanne se fiksheid voor die seisoen in alle erns begin en daar lê vir die afrigters harde werk voor.
Heibi se B-span het Melkies met 19 - 5 geklop en sy C-span het met 5 - 0 gewen.
Seagulls speel Saterdag tuis teen Riversdal Blues. Die Blues kan hulself staal vir 'n harde aanslag. Voorlangs lyk dit of Seagulls 'n sterk agttal in die veld kan stoot en agterlangs het hy genoeg vaart om enige verdediging deeglik te toets.
Heidelberg se volgende wedstryd is weg teen Bonnievale Blue Birds in Bonnievale.
Marcelino Manho, sterk stut van Heibi, op pad doellyn toe om sy drie te druk.
Marcelino Meyer, agtsteman van Heibi, word hier deur twee spelers van Seagulls beetgekry.
'Ons bring jou die nuutste Melkhoutfontein, Hessequa nuus'