RIVERSDAL NUUS - Soms maak ánder vere tóg die voël! Vier voormalige rugbyuitblinkers van Riversdal het bygedra tot die nasionale kampioenskapstatus van die Grootvoëls Golden Oldies-rugbyspan by die toernooi van SANGORA (South African National Golden Oldies Rugby Association).
Vier manne van Riversdal - Piet Lourens (slot), Wedré Geldenhuys (senter), Henning Botha (agsteman) en Wikus Nel (heelagter/vleuel) - was deel van dié prestasie.
Altesaam 32 landwye goue-oue spanne het deelgeneem. Die Grootvoëlspan is saamgestel uit oudspelers van die oudste rugbyklubs in die land: Beaufort-Wes, Oudtshoorn, George en Riversdal - en is verteenwoordig deur oud-Springbokke, oudprovinsiale spelers én voormalige Super Rugby-spelers.
Die manne het die toernooigunstelinge, Pretoria Harlequins (15 - 5), en die gedugte Paarl Boy’s High se Oldies-span (15 - 0) se vere vaartbelyn gepluk.
Die jongste speler was 37 en die oudste 50.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’