Gallery
RIVERSDAL NUUS - 'n Kliniese skopvertoning en 'n hand vol jonger spelers, wat van die afskop af 'n speelkans gekry en dit behoorlik benut het, het Saterdagmiddag in die Riversdal-stadion die grondslag gelê vir die Riversdal Blues se oorwinning met 34 - 5 oor Collegians van Oudtshoorn.
In 'n spansport is dit nie altyd billik om spelers uit te sonder nie, maar die Blues-losskakel, Wilbur January, was die groot generaal.
Hy het 19 punte aangeteken, wat 'n drie ingesluit het. January was dodelik akkuraat met sy skopwerk pale toe en giftig op die aanval.
Kortom: hy het die spel soos 'n meesterstrateeg beheer. As hy weer sulke voortreflike spel in die uitspeelrondes kan lewer, gaan die Blues moeilik in die Super B-afdeling geklop word.
Die klompie jong Turke wat speelkans gekry het, moes die afrigter Randall van der Berg, se hart tjoklits laat klop het.
Hulle is telkens luid toegejuig deur die ou hande op die bank.
Kerwin Abrahams (haker) was iets ysliks met die bal in die hand en hy het met kraglopies meters veld gewen vir die Blues en sy teenstanders se verdediging telkens oopgevlek. Lambert Johnson het geskitter op vleuel en sy debuut met 'n pragdrie gevier.
Só ook Sihayle Haerling (slot), Nicholaas jr. Stephanus, Adrian Jansen (flank) en die kaptein, Jaco Arendse (senter), wat uitgestaan het.
Ná 'n stadige begin het die Blues spoed opgetel en met puik samespel die spel beheer. Van der Berg sê mens het die indruk gekry dié spanpoging was dié van 'n goed geoefende span.
"Die voor- en agterspelers het goed gekombineer en dis asof alles net mooi in plek geval het. Dit kom nie vanself nie, maar verg harde werk. Ons kan die halfeindronde, wat heel waarskynlik 'n wegwedstryd teen óf Albertinia óf die All Blacks gaan wees, met heelwat selfvertroue tegemoetgaan.
"En natuurlik wou ons ons toeskouers bedank vir hul lojale ondersteuning met 'n goeie vertoning. Ons was dit aan hulle verskuldig." Die Blues sal, met die uitsondering van Andrew Jacobs wat nog beseer is, al sy spelers kan inspan.
Als tevergeefs. Jaco Arendse, kaptein en senter van die Blues, stort oor die doellyn vir 'n kragdrie.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'