HEIDELBERG NUUS - Die verdedigende kampioene, Evergreens van Pacaltsdorp, het Saterdag 29 Augustus hul staal gewys toe hulle Heidelberg-rugbyklub met 38 - 19 in die laaste SWDRVU Superliga Top-8-wedstryd van die seisoen geklop het.
Evergreens het reeds rustyd 'n stewige voorsprong van 26 - 7 gehad en uiteindelik met 'n gemaklike 19-puntsege van die veld gestap.
Hoewel Heidelberg met 'n verswakte span tot die stryd toegetree het, neem dit niks weg van die besoekers se welverdiende oorwinning nie.
Dit was nie noodwendig die beste vertoning wat dié twee spanne nog teen mekaar gelewer het nie, maar die wedstryd het darem vir die toeskouers heelwat aksie gebied. Altesaam 10 drieë is gedruk, met Evergreens wat ses keer agter die doellyn gaan kuier het, terwyl Heibi met vier drieë geantwoord het.
Dit was egter 'n swart dag vir Heidelberg-rugbyklub, aangesien die B- en C-spanne ook hul onderskeie wedstryde verloor het. Die B-span moes met 24 - 19 die knie buig, terwyl die C-span met 26 - 12 verloor het.
Hoewel Heibi se seisoen nie een van hul bestes was nie, bly hul lojale ondersteuners positief. Daar is 'n sterk geloof dat dié moeilike fase net tydelik is en dat Heidelberg volgende jaar weer volstoom sal terugkeer.
Die B-span sorg intussen vir 'n welkome ligpunt. Ondanks hul nederlaag het hulle steeds vir die halfeindstryd gekwalifiseer en behou hulle dus 'n kans om Heidelberg se seisoen met 'n hoogtepunt af te sluit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’