HEIDELBERG NUUS - Die plaaslike rugbyklub se vlagskip moes Saterdag 16 Julie alles in die stryd werp om Groot-Brakrivier op laasgenoemde se tuisveld in 'n Super A-kragmeting met 24 - 17 te wen.
Ná twee weke van vonkelwynrugby deur Heibi sou sy ondersteuners 'n nederlaag sleg ervaar het.
Al het Heibi twee drieë gedruk, was die oorwinning nie oortuigend genoeg nie. Die agterlyn het gesukkel om aan die gang te kom en boonop het die Brakke hulle onder groot druk geplaas met fisieke inklimspel en opskietverdediging. Die tuisspan se sterkpunt was hul stewige skrumwerk.
Heibi se kaptein, Lyndon Hartnick, het weereens beïndruk met sy lynstaanspel en verdediging. Simon du Toit het die oog gevang met sy voortreflike stormlopies in die nommer 4-trui.
Christopher Michaels het Heibi se eerste drie gedruk ná goeie werk deur die voorspelers. Francois Pieterse het hul tweede drie gedruk deur by die regterkantste hoekvlag oor te duik.
Heibi-afrigter, Johan Erasmus, was in sy skik met sy span se vertoning én met sy spelers wat van die bank af gekom het. Marcel Marias het ook stewig vertoon.
Heidelberg sal nou die momentum moet volhou wat hulle tot dusver opgebou het.
Die C-span het verloor met 20 - 15, maar die B-span het hulle wedstryd met 17 - 15 gewen.
Fernoldt Buis (vleuel) word van agter beetgekry deur 'n speler van Groot-Brakrivier.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'