HESSEQUA NUUS - Die oomblik van waarheid het aangebreek vir die drie Hessequa-rugbyspanne wat Saterdagmiddag (7 September) in lotsbepalende halfeindstrydkragmetings in die SWD-rugbyunie se senior klubliga betrokke is.
In die Super A-liga kom Heidelberg op sy tuisveld teen Bridgton van Oudtshoorn te staan in wat verwag word in 'n "toetsatmosfeer" gaan plaasvind.
Hoewel Heidelberg vanjaar effe gesukkel het in dié uitdagende liga het hy homself teen die einde mooi reggeruk en sy ware karakter gewys deur die uitspeelrondes te haal. Moet nooit 'n gevaarlike span afskryf wat met sy rug teen die muur veg nie.
Bridgton is 'n gevaarlik kalant en sal die tuisspan in alle opsigte deeglik toets. Dit gaan nie maklik wees op die veld nie.
Riversdal Blues het 'n taamlike steil bultjie om uit te klim in George waar hy teen Evergreens, eens een van die mees gevreesde spanne in die SWD se topliga, te staan kom.
En hoewel die Blues deur beserings geteister word, word daar van 'n span wat bo wil uitkom in die Eersteliga verwag om sulke terugslae te verwerk en nie toe te laat dit dit sy spel negatief beïnvloed nie.
Kabous Albertyn, hulpafrigter van die Blues, het vroeër in die week aan Suid-Kaap Forum gesê 'n kampioen moet tuis en weg kan wen. "Ons doel is eenvoudig: ons reis na George om die seisoen met 'n oorwinning teen Evergreeens af te sluit."
Seagulls het self 'n lelike klip in sy pad in sy wegwedstryd teen Harlequins in Oudtshoorn. Duane Deutchen, hoofafrigter van Seagulls, is vol vertroue dat sy manne die knoop kan deurhaak.
"Daar is baie op die spel vir albei spanne so hulle gaan op die veld draf met een doel voor oë; om te wen. Ek verwag 'n klipharde wedstryd van die afskop af."
Watter beter motivering kan daar vir 'n span wees om sy halfeindstryd te wen. Dis jou kaartjie na die eindstryd en moontlike bekerglorie. Vir die verloorders beteken dit eenvoudig die einde van die seisoen.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’