RUGBY NUUS - Hollywoodbets Harlequins is ‘n span om mee rekening te hou. Wel, Crusaders het in Pretoria aangekom wetend dat hul teenstanders die moeilikste kompetisie sou wees in die drie baie suksesvolle seisoene tot dusver.
Die lugdruk het alreeds binne die eerste tien minute sy tol begin eis, maar die vasberade kampioene van die SWD-premierliga het bloed geruik en het sommer binne ‘n kwessie van 15 minute alreeds drie keer agter die gevreesde Harlequins se doellyn gaan kuier.
Crusaders het egter die fout begaan om die hoë tempo te handhaaf – iets waarvoor hulle fisies nie opgewasse was nie. Harlequins het geweet dat die lugdruk ‘n doring in die vlees van die span van George sou wees en het die eerste helfte geëindig presies soos Crusaders die wedstryd begin het: met drie vinnige verdoelde drieë in die 15 minute voor halftyd.
Dit was een te veel vir die manne in rooi.
Die tweede helfte het afgeskop, Harlequins verbrou die geleentheid om balbesit te wen, Crusaders druk weer.
Die wedstryd het vir die volgende 20 minute soos ‘n wipplank op en af beweeg. Harlequins het teruggeveg en op hul sterkpunte gekonsentreer terwyl Crusaders geen antwoorde gehad het wanneer die grootseuns van Pretoria die bal begin dryf het nie.
Coya Banda, veteraan losskakel, tesame met Eric Zana wat op gespeel het, het gewys hoekom hulle al op die hoogste vlak meegeding het. Zana se visie en kalmte op die laaste lyn van verdediging het Crusaders telkemale van hartseer gered, terwyl Banda volle beheer geneem het toe dinge nie in plek wou val nie. Banda is uiteindelik as speler van die wedstryd aangewys.
Tuisvoordeel speel ‘n groot rol, en Saterdag kon Crusaders ‘n waardevolle les leer: respekteer die eksterne faktore wanneer jy weg van die huis af speel, pas aan en vind maniere om dit te oorkom.
Verkeerde besluite op kritiese tye het Crusaders amper die wedstryd gekos, maar ‘n 50 m strafskop in die laaste twee minute was toe uiteindelik die verskil tussen wen en verloor. Banda lê aan pale toe, die angs is hoog. Banda klits die bal tussen die pale deur en Crusaders is deur na die semi-finaal met ‘n telling van 54-51.
Nadat die span die ondraaglike lugdruk van die Hoëveld trotseer het, sou mens dink dat ‘n tuis semi-finaal op Crusaders sou wag. Nooit gesien nie. Vrydag sal die span weer op die vliegtuig moet klim en dieselfde eksterne faktore gesamentlik met onbekende teenstanders moet gaan trotseer, in wat rugbykenners glo die wedstryd op almal se lippe sal wees.
Die span het genoegsame ondervinding en talent om Saterdag hul alles te gee teen Naka Bulle van Pretoria om as oorwinnaars uit die stryd te tree.
SWD-premierliga nog lank nie klaar nie
Evergreens, wat twee wedstyde in die hand het, sal wil veg vir ‘n tuis semi-finaal. Barbarians het die belowende span van Blanco slae gegee, 15-7.
Brak lyk tans na die enigste konstante span wat die liga op sy kop kan draai in die uitspeelrondes. Die span wat gelei word deur die Arende-losvoorspeler, Marquin Smart, verdien om tot die bitter einde deel uit te maak van die jaar se veldtog. Brak wen Bridgton, 40-27.
Maoris verloor teen Jaquars, 24-19.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’