Breaking News
GEORGE NUUS - Medelye stroom sedert vanmiddag, Donderdag 14 Augustus, in op sosiale media ná die skielike en tragiese dood van Crusaders-rugbyklub se hoofafrigter, Stanley Kruger.
Kruger, ’n onderwyser by Olympia Vaardigheidskool in Pacaltsdorp, was vanmiddag ná skool op sy motorfiets toe hy in ’n botsing met ’n ligte vragmotor betrokke was.
Die ongeluk het op die hoek van Olympicrylaan en Beachweg in Pacaltsdorp plaasgevind. Polisie- en verkeersbeamptes was voor 17:00 nog op die toneel.
Emosionele tonele het vanmiddag daar afgespeel, waar Kruger se familie, Crusaders-spelers en kollegas saamgestaan het in hul skok en hartseer.
Kruger, sekerlik een van die mees passievolle rugbyafrigters in die streek, het op Klein-Brakrivier gewoon.
George Herald betuig ons innige meegevoel aan die Kruger-familie en sy vriende, die Crusaders-rugbyklub, sy kollegas en die breë rugbygemeenskap.
Die ongelukstoneel vanmiddag. Foto: Lizette da Silva
Kruger se ouer suster, Ronelle Marais, het op die toneel aan George Herald bevestig dat alle familielede van sy dood in kennis gestel is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’