Gallery
TUINROETE NUUS EN GALERY - Dit het Saterdag behoorlik drieë gereën op die Riverville-stadion toe die Riversdal Blues vir Prins Albert dronk gehardlooop en met 'n kriekettelling van die veld af gespeel het.
Niemand kon met sekerheid sê wat die Blues se wentelling was nie, maar in die wandelgange reken hulle so iets in die 60 punte vir die tuisspan terwyl Prins Albert so kort voor die einde darem die "eier" gebeek het met 'n troosdrie.
Aanvanklik het Riversdal gesukkel om aan die gang te kom, maar toe vlamgevat en die kleinerige skare op hardlooprugby vergas.
Voor- en agterspelers het die bal lustig rondgegooi en die arme besoekers kon eenvoudig nie al die gate toestop nie.
Die probleem as een span sy teenstander so oordonder, is dat die spel naderhand uitrafel en dis presies wat in die tweede helfte gebeur het.
Oorhaastigheid en 'n gebrek aan konsentrasie het verhoed dat die Blues minstens nog vier drieë kon druk. Talle belowende bewegings het skipbreuk gelei met verlore aangeë wat nie akkuraat uitgevoer is nie.
Saterdag reis die Blues na Melkhoutfontein om die Seagulls van Melkies op sy tuisveld aan te durf. Die Seagulls is tans witwarm en onder die voorlopers op die punteleer.
Riversdal kan hom dus regmaak vir 'n redelike taai kragmeting en vergeet van 'n kriekettelling soos teen Prins Albert.
Austin Sefoor (vleuel) systap om sy teenstander van Prins Albert. Hy het ook in die drieëfees gedeel en 'n paar keer agter die doellyn gaan draai.
Codian Michaels, sterk agtsteman van Riversdal Blues, duik oor sy verdedigers vir sy drie. Foto's: Hugo Redelinghuys
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'