Gallery
RIVERSDAL NUUS - Riversdal Blues het nou wel sy derby Saterdag op sy tuisveld met 24 - 14 teen Albertinia Rangers gewen, maar dit het die tuisspan goed 'n driekwart van die wedstryd geneem om behoorlik aan die gang te kom.
Dis of die Blues skielik uit 'n diep slaap wakker geskrik en toe wenrugby begin speel het. Drie drieë binne die bestek van 20 minute het Albertinia gekelder.
Die keerpunt was 'n doellose skop veld af in die wagtende hande van die Blues se plaasvervanger-vleuel, Keeton Bush, wat soos 'n stoomtrein weggespring het vir 'n pragdrie.
Met die telling 24 - 11 in die Blues se guns, het sake vir die besoekers maar troebel gelyk. Maar gee hulle dit ter ere, Albertinia het nooit gaan lê nie en talle aanvalle, selfs van hul eie doellyn af van stapel gestuur.
FOTOGALERY: Riversdal Blues teen Albertinia Rangers op 21 Mei
Die bal is soos 'n warm patat aangegee en net puik - en soms desperate - verdediging deur die Blues het hulle verhoed om terug te kom in die wedstryd.
Die feit dat Albertinia teen die einde slegs 12 spelers op die veld gehad het, het sake natuurlik geensins vir hulle vergemaklik nie. 'n Rooi kaart in die eerste helfte en twee geelkaarte teen die einde het hul wenkanse erg beduiwel.
André Goliath, hoofafrigter van die Blues het aan Suid-Kaap Forum gesê wat vir hom uitgestaan het, is die kalmte onder sy spelers.
"Toe Albertinia ons in die eerste helfte met hardlooprugby soms skoon oorhoops gehad het, het die manne nie paniekerig geraak nie. Ek dink die senuwees het maar erg gepla, want 'n derby het nou maar die nare gewoonte om met jou kop te smokkel.
"In dié opsig moet ek ons kaptein, Jaco Arendse uitsonder. Hy het van voor af gelei en sy troepe bymekaar gehou en moed ingepraat. Hy was 'n yster."
André sê die Blues sal eenvoudig daarop moet konsentreer om van meet af die pas aan te gee. "Ons kan nie toelaat dat ons teenstanders vroeg al 'n houvas op die wedstryd kry en ons aan die raai hou nie. Ons sal ook harder moet werk om die bal by die afbreekpunte te bemeester, Albertinia het goed daarin geslaag om die bal daar stadiger te maak."
Buiten Arendse, het Andrew Jacobs (buitesenter), Keeno Hendricks (plaasvervanger-haker) en Michael Hendricks jr. uitgeblink.
Jossie Bell word grond toe gepluk met die bal deur twee verdedigers van Albertinia terwyl sy spanmaats, Monré Hoffman (links) en Junior Stefanus byderhand is om hom te ondersteun. Foto's: Hugo Redelinghuys
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'