RIVERSDAL NUUS - Mooi was dit beslis nie, eerder meedoënloos. Riversdal Blues moes Saterdagmiddag 11 Junie diep delf op sy tuisveld om Silver Stars in 'n naelbytstryd met 11 - 10 te klop.
Toe die eindfluitjie blaas kon mens die Riversdal-ondersteuners se sug van verligting tot in Kaapstad hoor.
Die tuisspan het feitlik al die vaste fasette voorlangs oorheers. Skoon balle in die lynstane en stewige skrums het vir die Blues die platform geskep van waar hulle met mening kon aanval. Maar hul balhantering het talle belowende bewegings laat skipbreuk lei.
André Goliath, hoofafrigter van die Blues, reken die spelers was nie gefokus nie en soms te oorhaastig. "Ons sal moet werk daaraan om ons konsentrasie vir die volle 80 minute vol te hou. Ons het te veel kanse verlore laat gaan."
Hy was egter beïndruk met sy voorspelers se dryfmaalbewegings waarmee hulle Silver Stars telkens in trurat gehad het.
Junior Stephanus was puik vir die wenspan en Michael Hendricks jr. het ook 'n groot impak gemaak toe hy van die plaasvervangersbank af opgekom het. Ditto die plaasvervangerhaker, Kurwin Abrahams, wat goed met sy medespelers gekommunikeer en hulle kalm gehou het.
Oor twee weke pak die Blues Albertinia in 'n derby weg.
Chatwin Paulsen laat 'n verdediger van Silver Stars gras eet.
Michael Hendricks jr. duik sy teenstander van agter af. Hy het as impakspeler uitgeblink en speel elke wedstryd met groter selfvertroue. Foto's: Hugo Redelinghuys
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'