Gallery
RIVERSDAL NUUS - Dit was nie werklik mooi nie, maar toe die eindfluitjie blaas kon Riversdal Blues en hul ondersteuners 'n sug van verligting slaak.
Die eindtelling van 20 - 14 teen Jaguars was net wat die Blues broodnodig gehad het. Hoe hulle dit reggekry het, is 'n debat vir 'n ander dag.
Maar nou kan hulle ten minste skouers optrek en met 'n glimlag in Riversdal se strate rondstap. Uit die tuisspan se oogpunt was die eerste helfte goor. Die Blues kon nie behoorlik aan die gang kom nie en Jaguars het hulle veral in die vaste skrums verniel.
In die lynstane het dit nie veel beter gegaan nie en dis of Blues se verdedigingspatrone skielik in duie gestort het.
Verlore of swak aangeë het hulle verder onder druk geplaas.
Met rustyd het die hoofafrigter, Rhyno Jacobs, sekerlik sy sweep geklap, want toe het 'n ander Blues-span op die veld gedraf. Steeds dieselfde spelers, maar skielik vol energie, vasberade en oorgehaal om die foute van die eerste helfte weg te speel.
Hul aanvallende spel en taktiese skopwerk het Jaguars op die agtervoet gehou en toe kon die Blues met die bal baljaar en die toeskouers laat brul van plesier.
FOTOGALERY: Riversdal Blues teen Jaguars
Jaco Arendse, kaptein en senter van Blues, storm deur Jaguars se verdediging met sy Jason Witbooi wat sake van agter af dophou.
Laat ons maar eerlik wees: die Blues kan nie sonder hul groot planmaker, Wilbur January, op die veld draf nie. Op losskakel was hy 'n doring in Jaguars se vlees hoewel hy gesukkel het met sy skopwerk pale toe. Hy was nog duidelik verroes en het twee verspot maklike strafskoppe skeef getrek. Dis dalk te danke aan daai week waar hy sy uittrede uit rugby stil-stil aangekondig het. Wie hom oorreed het om weer te speel, verdien 'n Skotse wyntjie. Sommer liters daarvan.
Jacobs sê voor die wedstryd het hy aan die spelers gesê hulle moet onthou hulle is in 2020 in die Super B-liga as kampioen gekroon en dat hulle dit moet speel soos kampioene. "Julle kan as julle wil. Draf op die veld met net een idee in jul agterkoppe: om te wen, want ons wil in die Super A-liga bly.
"Vergeet daarvan om vir die toe-skouers te speel soos wat hulle graag wil hê julle moet speel. Bly gefokus en speel vir 'n slag wenrugby."
Met dié tipe ingesteldheid kan die Blues met meer selfvertroue opruk vir Saterdag se taai wegwedstryd teen Bridgton. Onthou, niks is onmoontlik nie.
FOTOGALERY: Riversdal Blues weer op wenpad
Suhayle Herling beur vorentoe mert die bal onder sy arm terwyl Jaguars se verdedigers hom vervaard probeer voorkeer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’