STILBAAI NUUS - Blues was Saterdag, 6 September, eenvoudig te sterk vir Seagulls en al drie hulle spanne het met die louere weggestap.
Blues se A-span het Seagulls gemaklik met 24 - 12 geklop ná 'n rustydtelling van 18 - 0.
Everton Manewil het Seagulls se drieë gedruk toe hy opgegaan het en het beslis 'n groot impak gemaak. Wilhelm Sollmans het geslaag met een doelskop.
Die B-span van Seagulls het, soos in hulle vorige wedstryd, die knie gebuig teen Blues. Blues kon tevrede van die veld stap met 'n eindtelling van 26 - 10 ná 'n rustydtelling van 14 - 5.
Die C-span van Blues was met die draaislag nog 3 - 5 agter, maar het uiteindelik geseëvier met 17 - 12.
Seagulls sal deeglik aan hulle verdediging moet werk voordat hulle Saterdag, 13 September, vir Harlequins in Melkhoutfontein aanpak.
Saterdag se wedstryde is egter steeds in die weegskaal, aangesien skeidsregters nog nie tevrede is met die Unie se tugprosesse nie.
Blues en Seagulls moes reeds hierdie afgelope naweek rondval om plaasvervanger-skeidsregters te kry nadat die aangewese skeidsregters nie opgedaag het nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’