Gallery
HESSEQUA NUUS - 'n Dag van lag, leed èn trane. Uiteindelik trane van vreugde vir Riversdal Blues, ja, maar krokodiltrane van teleurstelling vir Heidelberg en Albertinia Rangers.
Dit som die twee eindstryde van SWD se topklubs Saterdagmiddag op Outeniquapark ten beste op.
Riversdal Blues het die SWD Super B-liga gewen deur Albertinia in die "hoofvoorwedstryd" in 'n naelbytstryd met 21-16 te klop. Daarna het Crusaders sy titel as die Super A-kampioen behou toe hy Heidelberg se kanse befomfaai het deur dié kragmeting met 25-13 te beklink.
Albei eindstryde was allermins skouspelagtig. Rugby in die meeste eindstryde sprankel maar selde. Hard, taai en mededingend was dit beslis. Die toeskouers is soms op goeie stukkies aanvallende spel getrakteer, maar die grootste gebrul was vir daardie plettervatte.
Praat nou van perverse genot.
Dis die probleem met eindstryde waar alles op die spel is: solank jy wen gee niemand 'n blou duit om hóé jy dit doen nie. Of dit nou met skoppe is - gaap-gaap - of taktiese aangeë, stewige skrumwerk waarin jy jou teenstander in die grond in skrum, of têkkels waarmee jy die smaak uit 'n speler se mond kan lak, as jy huis toe gaan en jou span het gewen, was dit liplekker om te kyk.
Jaco Arendse, Blues-kaptein, ontvang die beker en wentjek vir R15 000 van Hennie Baartman van SA-rugby.
As mens die kragmeting tussen Riversdal Blues en Albertinia Rangers in oënskou neem, het dit wel voorgekom of die Blues gulsiger was vir 'n oorwinning.
Sy hoofafrigter, Randall van der Berg, het ná afloop van die wedstryd gesê sy spelers het die wedstrydplan goed uitgevoer en in die regte gebiede rugby gespeel.
"Ons was ook die beste span wat betref verdediging op die dag. Dié oorwinning kan nie aan toeval of geluk toegeskryf word nie. Ons was die hele seisoen as buiteperd beskou en niemand het ons 'n kans gegun nie.
"Om van agtste plek op die puntelys te vorder tot kampioen spreek boekdele. Ons was eenvoudig hongerder."
Heibi se vurige ondersteuners het, net soos hul span, nooit gaan lê nie. Gee dit aan die spelers ter ere, hulle het enduit geveg. In die laaste tien minute het Heidelberg aanvalle vanuit alle moontlike uithoeke van die veld geloods en Crusaders se verdediging behoorlik getoets.
Maar teen 'n span wat wemel van oudprovinsiale spelers sou dit altyd 'n geween en gekners van tande afgee. Kort ná rustyd het die momentum in Crusaders se guns begin draai. 'n Paar verkeerde besluite en swak skopwerk wat afgestorm is, het Heidi op die agtervoet geplaas en ook tot 'n hartverskeurende drie vir die wenspan gelei.
Dalk was die oomblik net te groot.
Rugbypuriste sal dit darem toegee: albei eindstryde was iets ysliks.
Michael "The Concrete Man" Hendricks beur vorenteo met die bal met sy spanmaat Andrew Jacobs aan sy regterkant.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'