Update
STILBAAI NUUS - Zach Olivier is 'n talentvolle jong sportman van Laerskool Bertie Barnard in Stilbaai. Hy het in 2022 as skrumskakel vir die Jong Arende se o. 12-rugbyspan uitgedraf en hom briljant van sy taak gekwyt.
Vanjaar het hy daarin geslaag om met harde werk en deursettings-vermoë sy plek as skrumskakel in die Jong Arende se o.13 Cravenweek A-span te verdien.
Hy sal gedurende die Junievakansie die SWD by die nasionale Cravenweek-toernooi vir laerskole in Pietermaritzburg verteenwoordig.
Zach se talente stop nie net by rugby nie. Hy het ook in 2022 en 2023 die Wes-Kaap verteenwoordig by die SA atletiekbyeenkoms vir laerskole, as 'n spiesgooier van formaat. Zach is tans die Wes-Kaap se voorste o. 13-spiesgooier.
Dit is duidelik dat hierdie seun 'n passie vir sport het. Sy vriendelikheid en sportmangees is aansteeklik en 'n voorbeeld vir vele. Sy ouers, familie en vriende is baie trots op hom en ondersteun hom sover moontlik om sy doelwitte te bereik.
Sy onkostes om sy sport te beoefen beloop tot dusver rondom R10 000 en daar word 'n beroep op inwoners gedoen om met 'n enige donasie te help om hierdie jong seun se sportdrome te bewaarheid.
Indien enigiemand 'n donasie wil maak, stuur 'n WhatsApp na 082 698 3881 vir meer inligting.
Zach Olivier blink ook uit met spiesgooi en is tans die Wes-Kaap se voorste o. 13-spiesgooier. Foto: Hugo Redelinghuys
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’