Gallery
HEIDELBERG NUUS - Uitgeput en moeg, maar elkeen van die sowat 1500 atlete wat gister aan die Vlakte-marathon tussen Heidelberg en Witsand deelgeneem het, het met 'n breë glimlag klaargemaak.
Maar die breedste glimlag het behoort aan Nico Steyn, voorsitter van Langeberg-atletiekklub, wat weer die gasheerklub was vir die gewilde marathon wat vir die 22ste keer aangebied is.
En dis ook reg so, want nie net was die opkoms uitstekend nie - dis mos goeie nuus as 'n sportgebeurtenis soos die Vlakte-marathon in deelnemergetalle groei - maar die weer het mooi saamgespeel om dit vir almal in 'n voortreflike uitstappie te omskep.
Nie dat die deelnemers aan die 40 km-marathon en selfs die halfmarathon dit nou juis as 'n uitstappie sal beskryf nie. Dit tap jou energie en toets jou uithouvermoë.
FOTOGALERY: Vlakte-Marathon 'n goeie advertensie vir die platteland
Nico sê die kombinasie van goeie weer, 'n stewige opkoms en 'n goeie gees onder die atlete het die 22ste Vlakte-marathon iets besonders gemaak. "Daar was geen onaangename voorvalle nie en die ondersteuning van atlete en toeskouers was werklik uitstekend. Hulle het 'n nuwe energie gebring na die twee plattelandse dorpe en dis beslis 'n groot inspuiting vir sowel Heidelberg as Witsand.
"Die Vlakte-marathon is voorwaar 'n goeie advertensie vir die platteland en ons sien daarna uit om almal in 2025 terug te verwelkom."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’