STILBAAI NUUS - Byna 50 lede van die Stilbaai U3A-stapgroep het Vrydagoggend, 6 Maart, 'n wandelroete in die Pauline Bohnen-natuurreservaat aangepak.
Die aanvankliike stewige klim agter Fresh Lemon was deur en deur die moeite werd, want sodra jy bo kom, kyk jy terug oor die pragtige Goukourivier daar ver onder, met Stilbaai en die see in die agtergrond.
Van daar kronkel die paadjie deur die veld tot by die lughawe, waarna die groep 'n ent met die grondpad teruggestap het tot naby die toring, waar hulle weer die veld in is.
Volgens Karl-Heinz Niemand, voorsitter van die stapgroep, is daar 48 Vrydae beskikbaar in 'n jaar en hulle stap elke Vrydag indien die weer dit toelaat.
Daar is natuurlik makliker roetes en ook meer uitdagende roetes, maar hulle beplan twee maande vooruit sodat stappers kan besluit watter roetes hulle wil aandurf.
Raak lid van Stilbaai U3A en kontak Karl-Heinz Niemand by [email protected] indien jy by die stapklub wil betrokke raak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’