STILBAAI NUUS - Vir die organiseerders van die Trans Agulhas-rubberbootwedvaart is die veiligheid van deelnemers 'n prioriteit. Daarom is die derde been van die wedvaart, van Stilbaai na Struisbaai, afgelas.
Digte mis langs die hele kuslyn het dit gevaarlik gemaak om te jaag, en dit sou veral onveilig wees by Witsand. Die finale besluit is dus kort voor die aanvang van die wedvaart gemaak.
Dit het sommige spanne onkant gevang, aangesien hul ondersteuningspanne reeds oppad na Struisbaai was en inderhaas moes omdraai en na Stilbaai terugkeer.
Die geskarrel om die bote so gou moontlik op die pad te kry, het 'n miernes van bedrywighede in die hawe veroorsaak. Daar was ook vissersbote wat wou in- en uitgaan, en Seevisserye se Ben Human het sy hande vol gehad om die verkeer te reguleer.
In Struisbaai het die organiseerders die verlore 160 km opgemaak met 'n ses rondte-roete van 160 km wat vyf strandstoppe ingesluit het.
Eben de Bod en Dévan Marais was, soos in die vorige twee dae, die algehele wenners en jaag tans in 'n klas van hulle eie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’