Update Video
RIVERSDAL NUUS - Die 19-jarige Alexander Clifford Faddel, ook bekend as 'Tarzan' of 'Thunder'-Xander, gaan op 6 November in Engeland aan die WINMAU Youth Masters veerpyltjiekampioenskap deelneem.
Faddel het op 11-jarige ouderdom aan die sport begin deelneem. ''Almal in ons familie is veerpyltjiespelers,'' sê Faddel. Hy was van 2014 tot 2016 as Eden-veerpyltjievereniging se sportman van die jaar aangewys en het ook in 2014 en 2016 Springbokkleure ontvang. Hy is baie trots op die prestasies wat hy al in dié sportsoort behaal het.
'n Paar prestasies wat veral spesiaal is, is die Saldana Classic Winner toe die span waarvan hy deel was, eerste plek behaal; by die Eden-kampioenskap het hy 'n eerste plek en die 'Doubles Runner-up' 'n tweede plek behaal; in' Last man Standing African'-kampioenskap het hy 'n tweede plek verower en daarmee kwalifiseer hy as 'n junior om in Engeland in die junior kategorie deel te neem.
Faddel het nog voor sy sesde verjaardag met die veerpyltjiebord kennis gemaak. Sy ma vertel dat hulle hom met 'n veerpylbord wiskunde geleer het. Vandag is hy net so goed in wiskunde as met die pyltjies.
Kyk 'n video hieronder:
Sy droom is om die wêreld se nommer een veerpyltjiespeler te word. Hy oefen twee ure per dag met sy oefenmaat, sy ma. Hy is die enigste junior veerpyltjiespeler wat al deel van die Springbokspan was in die Eden-span. Hy het nog nie genoeg geld om oorsee te gaan nie, daarom benodig hul nog borge. Persone of besighede wat bereid is om hom te ondersteun, kan Hannelie by 082 362 8646 of 079 733 9230 skakel.
Alexander Faddel besig om te oefen.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'