STILBAAI NUUS - Die plaaslike pluimbalklub het op Woensdag 1 Junie gasheer gespeel vir hul tweede Eden-ligakompetisie vir 2022. Die besoekers van Mosselbaai het as oorwinnaars uit die stryd getree.
Hoewel Stilbaai nie punte kon aanteken nie is daar beslis 'n opwaartse kurwe in sy spelers se spel en raak hulle al meer mededingend.
Die Stilbaaiers se goeie spangees en liefde vir die spel het ook tot gevolg dat sy spelersgetalle gesond groei.
Hulle is tans die grootste pluimbalklub in die streek met spelers tussen die ouderdomme van 7 en 72.
Spel vind twee keer per week op Maandae en Woensdae in die Stilbaai-gemeenskapsaal plaas. Die juniors speel van 16:00 tot 17:30 en die senior beginners om 17:30. Die meer ervare spelers kom van 18:30 tot 20:00 aan die beurt.
Vir meer inligting skakel Ursula by 084 503 8481.
Eden-pluimbalfederasie
Stilbaai is ook aktief betrokke by die ontwik-keling van die sport in die streek.
Hulle is tans in die proses is om affiliasie by die Hessequa-sportraad te bekom sodat hulle die spel na die res van Hessequa kan uitbrei.
In die tweede helfte van 2022 word daar weer 'n geleentheid gereël om afrigters op te lei.
Die Eden-pluimbal-federasie se streek strek van Plettenbergbaai tot by Heidelberg en sluit ook die gebied tussen Ladismith tot by Oudtshoorn in.
Ander klubs wat reeds met die Eden-pluim-balfederasie geaffilieer is, sluit in Oudtshoorn, Mosselbaai en George.
Enige persoon wat in die streek woon en meer inligting wil bekom oor die sport en watter ondersteuning gebied kan word om 'n klub op die been te kry, kan vir Ursula kontak.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'