STILBAAI NUUS - Stilbaai-rolbalklub se eerste aksierolbaltoernooi vir 2023 het Donderdag 23 Februarie met 'n rekord getal van 18 spanne afgeskop.
Die toernooi strek oor ses weke en die eindronde word op 30 Maart beslis. Met die vorige toernooi was die wenspan nog tot en met die laaste ronde nog nie 'n uitgemaakte saak nie en te oordeel aan die eerste ronde se spel wag daar nog sommer rowwe tweestryde.
Die vorige toernooi is gewen deur Lekka man Lekker en hulle is terug om hul titel te verdedig, maar Willie Welman se twee spanne,
Met Eis en Gaps, het al sommer voor die eerste ronde begin het gesê hulle kom om te wen.
Bertie Barnard, wat in die vorige toernooi tweede was, se span het Donderdagaand bietjie anders gelyk, maar hulle is ook nie van plan om swakker te vaar as verlede jaar nie.
Charlene Naudé kan balle ook rol as sy nie hare sny nie.
Die gees was Donderdagaand rittellekker en dit is duidelik dat hierdie 'n toernooi gaan wees om te onthou.
Die balle begin so net na vyfuur rol op 'n Donderdagaand, so as jy bietjie wil gees vang en vergeet van beurtkrag en korrupsie kom ondersteun 'n span. Al is dit die agterosse.
As daai bal maar net so gedraai het.
Manie Rood praat met daai bal.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'